Pages

Tuesday, August 5, 2014

Tasmania

Ouma in Tasmania
In April 2014 het Ouma gelees dat mens "motorhuise" kan verskuif vir die mense wat hulle verhuur en so taamlik goedkoop reis. Toe bespreek ek een en vlieg van Melbourne na Hobart. Die voertuig was groot en swaar en die paaie baie vol draaie, maar Tasmania is verskriklik mooi!
Die eerste dag het ek wes gery van Melbourne na Mt Field Nasionale Park. Ek het eers gaan kyk na 'n rivier wat onder die grond uitborrel. Om daar te kom, moes ek op 'n voetpad in 'n nat woud loop. Dit was al amper donker en daar was nie ander mense nie, so ek was'n bietjie bang, maar ek wou dit sien en het geloop. In die woud was dit donkerder as buite, Daar was groot bome met mos aan en reusagtige boomvarings. Dit het gelyk soos Jurassic Park en ek het amper verwag om 'n dinosaurus raak te loop. Maar ek het niks gesien nie, net die grot en die rivier wat daaruit borrel en pragtige plantegroei in die bos.

By Mt. Field het ek my voertuig langs die rivier parkeer en 'n ent met die pad langs gaan stap. Ek het 'n paar Bennets Wallabies gesien. As mens diere wil sien in Tasmania, moet jy teen skemer aand kyk. In die dag beweeg hulle selde. Ek het gehoop om Platypus in die rivier te sien, maar hulle was nie daar nie. 'n Platypus is 'n eienaardige dier. hy is 'm monotreme. Dit beteken dat al is hy of sy 'n dier, le sy eiers soos 'n eend, maar in 'n nes onder die grond. Daar broei die baie klein haarlose kleintjies uit. Die ma gaan net een keer elke dag of twee na die nes om vir hulle te laat drink, dan pak sy hulle weer toe met takkies en blare om warm te bly. Daar is gewoonlik net twee kleintjies. Die ma swem in die rivier rond en vroetel met haar bek soos 'n eend s'n in die modder en tussen die klippies op die bodem op soek na wurms en varswater krewe (yabbies). Haar oe is toe as sy onderwater is, maar sy kan elektriese trillings aanvoel van die prooi wat sy eet. Sy eet net lewende goggas.
Platypus het 'n skerp klou agtige nael aan die kant van hulle agterpote. As hulle vasgekeer word, of met mekaar baklei, gebruik hulle dit vir self verdediging. Die mannetjie s'n is die grootste. Daar is gif in wat soortgelyk is aan mamba gif en dodelik kan wees vir 'n dier of mens onder 30kg. Groot mense gaan nie dood van die steek nie maar die letsel kan vir so lank as 'n jaar baie pynlik wees. Daar is geen teengif beskikbaar nie. As mens nie met hulle lol nie, sal hulle niks aan jou doen nie, want hulle is eintlik baie skaam diere.

Die volgende oggend het ek verder gery na Lake St Clair. Daar het ek op 'n boot op die meer uitgegaan. Die meer is geweldig diep en baie, baie koud - net 11 grade celcius. Die water is kristalhelder. As die wind stil is, is daar die mooiste weerkaatsings. Na die bootrit het ek weer gaan stap en pragtige fotos geneem. Daar was 'n plek waar die gids gese het mens sien dikwels Platypus, maar ek kon weer nie een te sien kry nie!



Na 'n nag in die "motorhome" teen die rivier, het ek aangery deur berge en woude. Toe kom ek naby 'n dorp genaamd Queenstown in 'n maanlandskap met net kaal grond en rotse. In die omgewing het hulle vroeer jare gemyn sonder om die natuur in ag te neem. Nou is daar niks. Die minerale wat hulle gemyn het is ook op.



In die dorp het ek  huise gesien met  tuine vol kabouters!





Ek wou by Cradle Mountain aanry, maar daar was te min tyd. Ek het toe later weer Tasmania toe gegaan en Cradle Mountain gesien en rondom Dove Lake gestap. Ek was gelukkig om op een van die min sonnige dae in die jaar daar te wees.



Daar was baie diere by Cradle Mountain. Die wombat het in die veld gewoon, maar die quoll en
Tasmanian Devil was in 'n reservaat in hokke.




Met my tweede besoek aan Tasmania het ek ook die Ooskus besoek met sy pragtige strande en helder blou silwerskoon yskoue water.


Ek het ook net voor dit begin sneeu het, tot bo op Ben Lomond gery, met sy steil draaierige pad. Bo-op die berg is dit kaal en koud en winderig. As dit sneeu, kom ski baie mense daar. Daar is verblyf en ski geriewe op die berg. 

Tasmania is pragtig - seker een van die mooiste plekke waar ek nog ooit was. Daar is baie om te sien, en hoewel die eiland redelik klein is, is die paaie draaierig, die landskap uitdagend en die weer veranderlik en meestal koud. 'n Mens het seker minstens 'n maand nodig om meeste plekke te sien. Daar is baie gratis kampplekke in mooi natuurgebiede. Hulle het egter min geriewe - gewoonlik net 'n put toilet ver van die kampplek, soms skoon water. 'n Mens moet dus goed ingerig wees - verkieslik met 'n motorhome.  Die hotelle in die klein dorpies bied billike akkommodasie, maar gehalte is nie waffers nie. Verblyf naby Cradle Mountain is duur en nie altyd beskikbaar op kort kennis nie.  Hoewel Tasmania bekend is vir lekker kos, het dit my nie geluk om lekker kos te kry waar ek ge-eet het nie - inteendeel! 

Maar ek wil beslis weer gaan - sommer vir 'n maand lank met 'n lekker motorhome.  En wie weet, dalk sien ek 'n Tasmanian Tiger. Hulle is veronderstel om uitgesterf te wees, maar af en toe se iemand dat hulle een gesien het. 

No comments: