Ongeveer 1998
So bykans twee dekades gelede, toe ek die ouderdom van 40
nader, het ek begin voel my lewe is verby. Daar was ‘n gewaarwording van
ongedane sake en onverwesentlike drome en ‘n leeftyd wat sommerso iewers tussen
babadoeke en finansiele oorlewing verbygesnel het.
Toe word ek veertig en kom agter dit voel nie veel anders as
35 nie, solank ek net nie te stip in die spieel kyk nie. My lewe was jou
waarlik nie verby nie! Daar was egter ‘n besef van dringendheid. As ek van die
onverwesentlike drome wou verwesentlik sou ek moes begin werk maak daarvan.
Toe leer ek vlieg! Wat ‘n bevryding! Nie net van die aarde
nie. Ook van die ouderdom. Dit laat mens besef hoe relatief alles is as mens ‘n
nuwe vaardigheid aanleer en boonop jou eie vrees herhaaldelik moet oorwin. As
gevolg van al die adrenalien het ek
glad 3 kg verloor in die eerste paar weke.
Nou kon ek vlieg! So
kom dit eendag dat ek besluit om van Gaborone na Jwaneng te vlieg om ‘n kliniek
daar te gaan doen en ook ‘n halfmak siek volstruis op ‘n wildplaas te gaan vang
en behandel. Vroeg die oggend ontmoet ek my helper Ten-Ten Ikwathaeng,
agterkleinseun van Koning Khama se toordokter, by die praktyk. Hy staan
slaggereed – medisyne klaar gepak, pylgeweer vir die volstruis gereed vir in
geval, maar wat onmiddelik opval is sy
kleredrag! Sy blink gepoleerde skoene weerkaats die oggendson en sy hempkraag
se punte staan wyd soos die das styf om sy nek geknoop is. Hy het tot ‘n
baadjie aan en op sy bors pryk vir die eerste keer sedert ek hom ken ‘n ZCC
wapen. Ek wonder nou nog of hy bloot
gedink het hy moet goed lyk vir sy eerste vlug en of hy gereed gemaak het om sy
maker te ontmoet.
Toe ek by ons terugkeer na ‘n suksesvolle dag van honde
dokter en volstruis vang vir hom vra “hoe was die vlug?”, was sy enigste
kommentaar “Interessant”.
No comments:
Post a Comment