13 Desember 1990
Ek en Elodie in my troue Toyota op reis deur die Kalahari - oor duin en straat - verby die plase met hulbeskrywende, romantiese en of onvanpaste name: Flora Dora, Sandbad, Sonstraal, Lonely, De Hemelstraat, Gemsbokkie, Aasvoëlpan, Vrede, Loch Broom, Feësand, Kings Rest, Takeaways 1 km, WelkominAshkamdankievirubesoek! Verby ‘n mankolieke opslaanhut teen ‘n rooi duin met “Te Koop” daarop geverf.
Al die driedorings wit in blom, gras skyn groen deur na die onlangse reën en die kameeldoringbome, swaar in blaar, lyk of hulle dans in afwagting vir nog reën! Donderweer dreun oor die woestyn. Wit boerbokke huppel oor die kruin van ‘n rooi sandduin. Rachmaninoff oor die pas herstelde bandspeler. Die lugreëlaar ook reggemaak. Jammer Osoonlaag, maar vandag is MY dag!
Tussen Leeudril en Rooiputs stap ‘n maanhaar leeu stadig en statig al langs die pad. Hy kyk skaars in ons rigting, maar hy laat my ril met ‘n oeroue opwinding. Krag straal uit elke voetstap. Net voor hy oor ‘n duin gaan, sak hy effens, staan ‘n oomblik stil en snuif die wind, stap dan na die naaste groot struik en merk dit - selfvoldaan en seker van sy koningskap.
Afrika - wat ‘n plek!
No comments:
Post a Comment