AS JY DALK ‘N LEEU WIL JAG……..
13:00. Okavango. Nee nie moeras
nie –songebakte savanna. Twee meter van my ‘n ¾ wakker leeu. Drie van ons bo-op
die landrover, vyf binne. Die term “canned lion hunt” neem ‘n total nuwe
betekenis aan. As enigeen beweeg, staar leeu se kind direk na hom en lek haar
lippe af. Die son steek, die vlieë byt, die dak is hard en die leeu staar. My
hand is buite haar gesigsveld, maar my vingers is al wat ek durf beweeg.
Wat soek ek hier, vra jy?
Avontuur? Beswaarlik. Na ‘n uur of wat se stamperige ry, ‘n paar minute van
kniee lam maak angs tot sy suksesvol gepyl is, ‘n paar minute opwinding tot die
ander leeus padgee en sy rustig slaap, ‘n paar minute se werk, dan ure se wag
tot sy opstaan en loop, raak dit redelik vervelig. Ons is boonop almal
diereliefhebbers wat sonder gedagte aan ons eie gerief of veiligheid die
voertuig so parkeer het dat die skaduwee op die leeu val. Dit was so net na elf
en die skaduwees was al kort en die leeu lê baie naby!
Dit lyk of die leeu darem nou
besluit het ons is nie ‘n bedrieging of ‘n delikatesse nie, maar niemand waag dit
om te roer nie. Hoe langer sy lê tussen opvlie en mense aanstaar episodes, hoe
sterker raak sy. Haar oë is baie geel –
haar tande ook – en sy kyk baie stip. Haar maats proes so nou en dan in die
bosse hier naby. Ons is dors, maar
Christiaan, die bebaarde leeu navorser, sit op die koelhouer en durf nie beweeg
nie.
Hierdie is ons tweede leeu. Sy is
deel van ‘n groep van drie wyfies met ‘n aantal opgeskote welpies. Ons het haar
radio halsband afgehaal sodat die batterye in Pretoria herlaai kan word. Dit is
vir my heelwat makliker in die dag, behalwe vir die hitte. Minstens kan mens
die ander leeus beter sien, solank hulle nie plat op hulle pense in die lang
gras le nie.
Gisteraand het ons ‘n wyfie gepyl
wat deel was van ‘n groep van drie – nog ‘n wyfie en ‘n jong mannetjie. Ons het
hulle nader gelok met ‘n bandopname van ‘n skreeuende vark. Die leeus het
sommer gou kom ondersoek instel. Ons het
die een wyfie gepyl en terwyl Christiaan wag gestaan het met die geweer, het ek
bloedmonsters geneem terwyl Hanlie, Christiaan
se vrou , en Graham, ‘n jong navorser die halsband aangesit het. Graham is ‘n forse, aantreklike, blonde, jong
man met ‘n ongekamde maanhaar soos ‘n leeu, maar vir die leeus is hy so
skrikkerig soos die duiwel vir ‘n slypsteen. Elke keer as die leeu haar oor wikkel, spring
hy ses voet in die lug op!
Toe die wyfie begin bykom en
steier-steier na die ander leeus beweeg, het hulle baie aggressief nader gekom.
Ons was bang hulle byt haar en maak toe ‘n geraas om hulle te verwilder. Daar
spring die gepylde leeu toe kortom en storm weg van die ander leeus – reguit na
ons toe. Gelukkig het sy omgeval en eers weer ‘n rukkie geslaap voor sy te naby
gekom het. Die nag was baie koud en baie donker en verbasend stil. Behalwe vir
paddas in die verte, was daar nie ‘n geluid nie. Tog krioel die Okavango van
lewe.
Die dag daarna het ons vroeg
begin. Dit was nog donker en ysig koud. Reg voor die kamp het vars leeuspore in
die stof gele. Die trop wat ‘n halsband moes kry was dus in die omgewing. Ons sou ry tot waar hulle die vorige dag
gesien is en weer die skreeuende speenvark sonata speel. Op pad wou ons egter
sommer sien of ons die vorige dag se trop kan opspoor en moontlik nog ‘n
halsband ook afhaal vir herlaaing.
‘n Hollandse student genaam Jesse
sit op die dak. “Stop, stop, stop, stop, ek kry ‘n baie sterk sein. Dis regs
voor, omtrent op 1 uur”. Ons draai van die pad af en vaar die bosse in. Dit
stamp en skud en kreun. Na ‘n rukkie sê Jessie “ Stop, stop, dis nou agter ons.
Ons draai weer. Nou hoor hy die sein regs, dan links, dan agter, dan voor.
Skielik se Hannie “Hoor hierso, waar is daardie halsband wat ons gister afgehaal
het?” Ons is toe heeltyd besig om ons self te agtervolg!
Ten spyte van die twyfelagtige
wegspring, vind ons die trop wat ‘n halsband moet kry redelik gou, nie te ver van
die pad af nie. Dis net leeus waar jy kyk. Daar is drie wyfies, 5 opgeskote
welpies, wat vir my maar nes groot leeus lyk, en een baie klein welpie. Maar
hulle is op ‘n missie en beweeg met mening dieper in die bosse in. Die skreeuende vlakvark laat hulle egter vassteek
in hulle spore. Een wyfie staan met haar boud mooi na my gedraai. Dis effens
teen die son, maar ek neem dooierus, mik versigtig en skiet. Dis mis. Ek voel
baie afgehaal. Ek het dan so mooi gemik! Die wyfie vloog weg, maar swaai om en
gluur ons aan. Toe ons vorentoe ry, bestorm sy die voertuig, maar bedink
haarself en stop betyds. Ons volg hulle stadig tot hulle in die koelte van ‘n
miershoop gaan lê. Hulle lê oor ‘n groot area versprei en dis baie bebos. Die
omstandighede is ver van ideal. Ons skuif die voertuig versigtig tot ek een se
nek mooi in die visier het. Ek mik versigtig. Die kruis van die teleskoop le
mooi sentraal op haar nek. Niemand roer nie. Ek skiet. Dit is mis. Die gemiste
leeu storm weg, die ander wyfie storm nader. Ons besluit om te retireer tot
laatmiddag wanneer die leeus rustig is en die veearts hopelik beter skiet.
Terug by die kamp stel ek ‘n
teiken op en skiet ‘n paar oefenskote. Dit is elke keer tussen 12 en 15 cm regs
van die teiken. Ek vra vir Christiaan om ook te prober. Hy skiet ook regs van
die teiken. Van al die geskud en geskommel is die teleskoop uitgestel in die voertuig. Ons verstel hom totdat ons albei herhaaldelik
die pyl deur die dieselfde gat in die middel van die teiken op die kartondoos
skiet.
Laatmiddag sit ons weer af, die
bosse in. Die keer sleep ons ‘n vlakvark
aan ‘n ketting om die leeus besig te hou.
Ons neem stelling in naby die Xudum aanloopbaan waar ons die leeus
vanoggend gelos het. Hanlie glo hulle
sal nie die speenvark sonata nog ‘n keer
vertrou nie en dring aan op die sterwende buffel orkes. Christiaan vra watte en prop pluisies in sy
ore. Hy het duidelik die orkes al voorheen gehoor. Toe ek al byna die wysie uit
my kop ken en dit al koud en donker is, sluip ‘n hiëna uit die bosse en vreet
binne minute die vlakvark se linkerboud af. Dit neem hom net drie of vier byte.
Ons besluit om verder te ry. Die
vlakvark wip oor die bosse en die hiëna hardloop agterna so vining as wat hy
kan. Toe ons indraai na die aanloopbaan, sien ons oë weerkaats. Dit is ons
leeus! Ons ry versigtig nader en vind dat dit net die welpies is – 5 grotes en
een kleintjie. Hulle is baie bly oor die vlakvark en le met mening aan hom weg.
Die klientjie brul en knor en vreet met die beste van hulle. Kort-kort klap ‘n
grote hom teen die oor, maar wat vreet is hy! So verdwyn ons lokaas voor ons oë.
Ons moet ‘n groot leeu pyl, nie een wat nog moet groei nie, want dan moet die
halsband kort voor lank vervang word.
Ons bespreek ons opsies. Die ma
leeus het klaarblyklig gaan jag en die kleintjies aangesê om hier te wag. Hulle
sal sekerlik terugkeer sodra hulle sukses behaal, maar Hanlie sê hulle het al
gesien dat wyfies hulle kleintjies vir tot 36 uur los. Ons beste opsie is
voorlopig egter om te wag. Dit is donkermaan. Sterre verskiet. ‘n Jakkals sluip
nader, maar een leeutjie gewaar hom en jaag hom weg. Daarna sit hy ‘n ent weg
van die ander en hou wag, terwyl hulle nog aan die vlakvark se bene kou. Tyd
stap aan. Al wat mens hoor is die geknars van bene.
Skielik staan 5 van die 6
leeutjies soos een man op en begin hardloop na die bopunt van die aanloopbaan.
Christiaan volg hulle met die soeklig. In die verte blink oë. Dit is die
wyfies!
Ons skakel aan en volg hulle. Een
leeutjie kou nog aan die bene in die gras. Toe ons nader kom sien ons twee
wyfies met bloed aan hulle gesigte. Die kleintjies groet opgewonde, maar hulle
wil nie vertoef nie. Hulle sit op ‘n drafstap af in die nag in. Skielik kom die
klientjie wat agtergebly met ‘n groot geskreeu agterna. Ons is bietjie naby aan
die trop en die twee wyfies steek vas, beweeg agter om die voertuig en begin
ons bekruip. Ek het nie geweet mens kan so naak en onbewaak voel op ‘n Landrover
se dak nie. Ons swaai weg en val ‘n bietjie terug. Na etlike min of meer reguit
kilometers draai die leeus skielik links
af in die bosse in. Ons verloor hulle kortstondig. Toe ons hulle weer sien, lê
al 8 groot en jong leeus met mening weg aan ‘n tsessebe. Die arme klein
leeutjie kry nie eetplek nie en sit op sy ma se rug en kla soos ‘n kat.
Die leeus vreet dat die bloed
spat. Hulle grom en klap na mekaar. Hulle is ‘n krioelende moordbende. Hierdie
toneel laat by my geen twyfel oor die feit dat hierdie diere uiters gevaarlik
is nie. Binne 20 minute is die tsessebe net ‘n bondel bene. Die leeus begin
stukke wegsleep die bosse in. Ons moet nou gou speel, voor almal weg beweeg.
Een wyfie lê nog aan die karkas en vreet. My hande bewe. My kniee ook. Ek
skiet. Dis raak. Die wyfie vlie op en storm ‘n paar tree weg, om agter ‘n
doringbos te gaan lê. Oral is leeus in die donker. Ons weet daar is hiënas ook
iewers agter ons. Ons probeer om eers die ander leeus te verjaag, maar hulle
wil nie padgee nie. Na ‘n halfuur besluit ons om met die gepylde leeu te werk
voor sy wakker word. Die paar minute se werk voel na ‘n ewigheid voor almal
weer veilig terug is in of op die voertuig.
Al meer hiënas het intussen nadergekom, gelok deur die tsessebe se
oorblyfsels.
Die gepylde leeu slaap nog diep en ek is effens onrustig oor
haar welsyn. Skielik kom daar eienaardige geluide van iewers – amper soos ‘n
leeu wat versmoor. Ons skrik. Dis die gepylde leeu sê Christiaan. Ons luister.
Nee, sê ek, die geluid kom van links en klink of dit verder weg is. Dit klink
behoorlik of ‘n dikgevrete leeu aan die slaap geraak en lê en snork! Toe besef
ons dis g’n leeu nie, maar Jesse wat wat reg voor ons op die dak die slaapsak
oor sy kop getrek het, aan die slaap geraak het en lustig snork. Ons lag hardop.
Die leeus in die bos grom onrustig.
Weer volg stilte in die nag. Na wat voel na ‘n baie lang
tyd, begin die gepylde leeu beweeg. Toe sy kan staan, keer ‘n baie moeë, koue
en honger trop leeujagters terug kamp toe.
No comments:
Post a Comment