Veeartsenykunde is vir mal mense. Ek het in die vroee ure van Sondagoggend 'n budgie verlos van 'n eier wat vassit met sy histeriese eienares se bogpratery in my ore. Sy beweer die budgie is verlief op haar man, daarom is haar hormone deurmekaar (die budgie s'n, my lam). Daarom wil sy eiers le terwyl haar liggam nie gereed is daarvoor nie. Ek het my bes probeer om die budgie te hou en haar weg te stuur, maar sy het bly sit. Nou ja, met groot moeite, geduld en toewyding kry ek toe uiteindelik die eier uit sonder veel trauma - behalwe vir die wat die vrou op my psige uitgeoefen het. Die budgie lyk toe goed, dis 5 uur in die oggend, ek is gatvol vir die mal vrou en reken dis die beste vir die arme budgie om huis toe te gaan na 'n bekende omgewing. Soos Leon sou se "WRONGGG!!"
Gisteraand na aan middernag storm die vrou die spreekkamer binne met die budgie styf toegedraai in 'n handdoek teen haar boesem. Toe ons hom losgewikkel kry, is hy nie alleen dood nie, maar lankal stokstyf, hoewel sy oortuig is hy het gelewe toe sy by die huis weg is. Nou ja. 'n Drie jaar oue kind kan baie by haar leer oor die gooi van tantrums - huil, skreeu, rol op die vloer, stamp jou kop herhaaldelik teen die toonbank, hard. Skreeu 'n bietjie harder. Vloek - vreeslik. Dryg om jouself dood te maak, want jou lewe is nie meer die moeite werd nie en dit sal die veearts se skuld wees. (Selfs al onderdruk die veearts die innner voice wat se "Nou, vat haar kop vas op die agterkant van sy trek en help hom vorentoe - na die skerp rand van die toonbank".) Beskuldig die veearts van budgie moord. Skreeu nog harder en dreig om die veearts hof toe te neem. As die veearts steeds haar inner voice ignoreer, dreig om haar dood te maak. As dit ook nie werk nie, dreig om almal by die praktyk dood te maak. Intussen staan die man in die hoekie en skop na die muur. Hy se egter niks. Is hy ontsteld oor sy enigste ware geliefde dood is, of verbeel hy hom die muur is sy vrou? Sy broer staan hulpeloos en toekyk. Eindelik is die spul darem by die deur uit en gelukkig was daar nie ander kliente in die spreekkamer nie.
Toe se die veearts wat nog agter besig is dat dit praktyk beleid is om enige dreigemente van geweld aan die polisie te rapporteer. Dit is een ding wat my beindruk van Oz - hulle was binne 10 minute daar, hoewel ons vir hulle gese het die mense is reeds weg en ons glo nie daar is regtig enige gevaar nie. Hulle was vriendelik en professioneel en het gese hulle patrolleer heel nag in die omgewing en kan gou daar wees en moenie huiwer om te bel as daar enige verdere probleme is nie.
Nogtans, dit was 'n lang donker nag in die stil gebou en enige krake was harder as gewoonlik en die arme Amerikaanse verpleegstertjie - my enige geselskap na 12 - was maar senuweeagtig om die honde buite toe te neem om te gaan piepie.
Ek wens ek was 'n kunstenaar! Of dalk die Filipino wat om 4uur in die oggend die gebou kom skoonmaak. Behalwe vir groet, hoef hy met niemand te praat nie en na niemand te luister nie.
No comments:
Post a Comment